Dlamini-Zuma sal weer meeding om AU-pos
2012-01-31 10:00
Addis Abeba – Suid-Afrika het gesê Nkosazana Dlamaini Zuma sal in die volgende verkiesing weer meeding om die voorsitterskap van die AU-kommissie.
Dít kom nadat sy nie daarin kon slaag om die vereiste tweederde-meerderheid in Maandag se verkiesing te behaal nie.
"Niks keer ons om dieselfde kandidaat weer te laat meeding nie, omdat sy gewys het sy is 'n formidabele kandidaat wat die ampsdraer nie kon oorwin nie," het Maite Nkoane-Mashabane, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en COP-president, in 'n verklaring gesê.
Dlamini-Zuma en Jean Ping van Gaboen, huidige posbekleër, het in ’n spanningsvolle verkiesingsproses teen mekaar te staan gekom.
Die Afrika-Unie het Dinsdag die mandaat van Jean Ping verleng tot die volgende beraad wat later vanjaar in Lilongwe in Malawi gehou word.
RSG berig pres. Jacob Zuma het gesê Suid-Afrika is steeds vol vertroue dat Dlamini-Zuma as voorsitter van die AU-kommissie verkies sal word.
Volgens Zuma is Suid-Afrika steeds in 'n gunstige posisie om uiteindelik die leierskap van die AU te beklee.
President Thomas Boni Yayai van Benin het bewerings ontken dat daar 'n dooiepunt in die verkiesing is as gevolg van verdeeldheid in die Pan Afrika blok van lande.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA