Derde fase van Egiptiese verkiesing gaan voort
2012-01-03 18:04
Kaïro – Stemlokale in Egipte is oop vir die derde en laaste ronde van parlementêre verkiesings waarin Moslem-partye waarskynlik die meerderheid sal hê, het RSG berig.
Die verkiesing van die laer huis is die eerste sedert oud-president Hosni Mubarak in Februarie ontsetel is na ‘n opstand teen sy regime.
Sowat 14 miljoen kiesers stem in nege van die 27 provinsies. Altesaam 2 666 kandidate gaan meeding om 150 setels.
Twee derdes van die 498 setels in die parlement is aan partye toegeken. Die oorblywendes is aan indiwidue beskikbaar gemaak.
Intussen gaan die hofsaak teen Mubarak voort. Indien hy skuldig bevind word op die aanklagte dat hy die bevel gegee het dat betogers tydens die opstand doodgemaak moet word, kan hy met die doodstraf gevonnis word.
– RSG
– Volg Nuus24 op Twitter.