Depressiewe Mubarak weier om te eet
2011-07-27 09:56
Kaïro – Hosni Mubarak, die voormalige president van Egipte, se hoofdokter het gesê hy weier om enigiets te eet of te drink en verloor glo baie gewig.
Dié nuus volg op gerugte dat Mubarak nie volgende week, soos beplan, verhoor sal word vir misdrywe tydens sy bewind nie.
Assem Azzam het Mubarak as “byna stabiel” beskryf maar het benadruk dat die voormalige president aan erge depressie ly.
Dokters het glo gesê as hy nie binnekort begin eet nie, sal hulle dit oorweeg om met binneaarse voeding te begin.
Mubarak is sedert April, toe hy gedwing is om sy amp neer te lê, onder huisarres in ‘n hospitaal in die Sharm el-Sheikh-oord by die Rooi See.
Die saak teen Mubarak is geskeduleer vir 3 Augustus. Hy staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie en die moord op betogers tydens die opstand in Egipte.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP