DRK: Kiesers brand stemlokale af
2011-11-28 22:54
Kinshasa – Inwoners van Kananga in die Demokratiese Republiek van die Kongo het Maandag stemlokale aan die brand gesteek en stembriewe gesteel nadat hulle houers ontdek het wat reeds vol stembriewe was, het ‘n bron van die Verenigde Nasies gesê.
Die onrus het begin nadat die stemmery vertraag is omdat stembriewe en ander materiaal nie afgelewer is nie.
Dit het erger geword toe die vol stembusse ontdek is, het ‘n VN-beampte gesê.
Sowat 15 stemlokale is aan die brand gesteek, het ‘n parlementêre kandidaat aan AFP gesê.
Die stad in die Kasai Oriental-provinsie is ‘n vesting vir die opposisieleier, Etienne Tshisekedi, die hoofteenstander van pres. Joseph Kabila in die verkiesing wat tans in die DRK plaasvind.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP