DRK: Geld vir jou vuurwapen
2010-03-09 11:07
Kinshasa – Die Demokratiese Republiek van die Kongo gaan Dinsdag ‘n ontwapeningsveldtog loods genaamd “vuurwapen vir 50 dollars”, het ‘n minister Maandag gesê.
Volgens Lambert Mende, minister van kommunikasie, beplan die regering om sowat 20 000 tot 30 000 vuurwapens in te samel.
Maar daar is nog nie gesê hoe lank die veldtog sal duur, wat deur pres. Joseph Kabila gefinansier sal word nie.
‘n Verklaring wat deur die regering vrygestel is, het gesê die veldtog is daarop gemik om finaal vrede in die streek te bewerkstellig.
“Mense moet oortuig word dat daar geen rede is om ‘n vuurwapen te dra nie, en dit is teen die wet,” het Mende gesê.
Die veldtog gaan in ‘n dorp naby Goma afskop, die grootste stad in die oostelike Nord-Kivu-provinsie, voordat dit na ander provinsies uitgebrei gaan word.
- Sapa