D-dag vir Naomi Campbell
2010-08-05 10:07
Den Haag – Die supermodel Naomi Campbell sal na verwagting Donderdag in die hof getuig oor ‘n sogenaamde bloeddiamant wat sy glo as geskenk vanaf Charles Taylor, gewese Liberiese president ontvang het.
Staatsaanklaers het die 40-jarige Campbell gedagvaar om te getuig nadat Taylor beweer hy het nog nooit so ‘n diamant besit nie.
Daar word beweer die 62-jarige Taylor het mense gekry om die sogenaamde bloeddiamant by Campbell se kamer af te lewer, nadat dié twee mekaar tydens ‘n ete in 1997 wat deur oudpres. Nelson Mandela gehou is, ontmoet het.
Taylor het die diamante glo na Suid-Afrika geneem om dit te verkoop, of in ruil vir wapens te gee.
Taylor het alle aanklagte teen hom ontken.
Campbell se gewese agent, Carole White en die aktrise Mia Farrow, wie ook die ete bygewoon het, sal volgende Maandag oor die diamante getuig.
White beweer sy was teenwoordig toe die diamante aan Campbell afgelewer word, terwyl Farrow sê Campbell het haar die volgende oggend tydens ontbyt daarvan vertel.
Indien Campbell nie Donderdag by die hof opdaag nie, kan sy tot sewe jaar tronkstraf gevonnis word.
Taylor se verhoor het in Junie 2007 in Den Haag begin. Hy staan tereg op elf aanklagte van oorlogsmisdade en ook vir sy aandeel in ‘n burgeroorlog in Sierra Leone wat die lewens van 120 000 mense geeïs het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- AFP