Chinese diplomaat, Libiese rebelle vergader
2011-07-07 21:06
Beijing – ‘n Senior Chinese diplomaat het die Libiese rebelle in Benghazi besoek terwyl Beijing al hoe meer betrokke by dié Noord-Afrika-land raak, het staatsmedia Donderdag berig.
Chen Xiaodong, wat in beheer van Noord-Afrika-sake is by die departement van buitelandse sake, het beamptes van die Nasionale Oorgangsraad (NOR) ontmoet, het die Xinhua-nuusagentskap berig.
Chen het ‘n beroep op Libiërs gedoen vir ‘n vinnige politieke oplossing vir die vier maande lange krisis. Hy het ook die rebelle aangemoedig om met Muammar Gaddafi, die Libiese leier, se beamptes te vergader.
Die NOR het gesê hy is gewillig om sy verhouding met China te versterk en het belowe om Chinese mense en besighede te beskerm in die omgewings wat deur die rebelle beheer word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP