China wil meer hê van Zim
2011-11-17 10:03
Beijing – Xi Jinping, China se adjunkpresident, het gesê dat China sy boerdery-, mynbou- en infrastruktuur-projekte in Zimbabwe wil uitbrei ondanks eise van die Zimbabwiese regering dat 51% van buitelandse maatskappye aan plaaslike inwoners moet behoort.
Dié nuwe reëls het tot gevolg gehad dat baie Westerse lande nie meer in Zimbabwe wil belê nie.
Volgens ‘n verslag deur die Chinese departement van buitelandse sake is Xi nie bekommerd oor die beperkinge nie.
Robert Mugabe, die president van Zimbabwe, “is ‘n bekende leier van die nasionale vryheidsbeweging in Afrika en ook ‘n ou vriend wat die Chinese bevolking baie goed ken,” het Xi gesê.
“China is gewillig om saam met Zimbabwe te staan en vriendelike toegewings te maak en so samewerking uit te brei.”
Die verslag het nie gesê of Mugabe en Xi al enige kommersiële ooreenkomste aangegaan het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters