China leen miljoene aan Ethiopië
2011-11-17 12:12
Beijing – China beplan om $100 miljoen (sowat R800 miljoen) aan Ethiopië te leen en om ‘n vloot van 90 voertuie te borg sodat dié land sy waterverskaffingsprojekte kan voltooi, het Xinhua, die amptelike Chinese nuusagentskap, berig.
Jiang Yaoping, China se adjunkminister van handel, en Sufian Ahmed, Ethiopië se minister van finansies, het Woensdag die ooreenkoms vir die lening onderteken. Xinhua het nie gesê wanneer die geld uitbetaal gaan word nie.
Die lening sal help betaal aan die diepwaterput-projekte in Addis Ababa, Ethiopië se hoofstad. Die vloot van 90 voertuie – 65 motors en 25 busse – sal gebruik word om “staatsbesoekers te dien.”
Die regering in beide lande het gesê dié lening dui op ‘n goeie bilaterale verhouding tussen die twee nasies wat sal versterk met groter handel- en beleggingsverbintenisse.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters