Busongelukke in Marokko eis 26
2012-07-10 12:46
Rabat – Minstens 26 mense, insluitend verskeie buitelanders, is in twee afsonderlike padongelukke in Marokko dood, het die polisie en paramedici Dinsdag gesê.
Die eerste ongeluk het Maandagmiddag naby Nador in die noordooste van die land plaasgevind. Tien mense is dood en 33 ander is beseer. Vyf van die beseerdes is in ‘n ernstige toestand.
Die ongeluk het plaasgevind toe die bus, wat tussen Rabat en Nador gery het, omgeslaan het omdat dit te vinnig gery het, het ‘n polisiebron gesê.
Minstens 16 mense, insluitend toeriste, is Maandagaand dood in 'n ander busongeluk naby die Marokkaanse kusdorpie van Essaouira, het 'n mediese beampte Dinsdag gesê.
Die bus, wat van Agadir gereis het, het dalk weens spoed omgeslaan, het die polisie gesê. Verskeie mense het beserings opgedoen.
Volgens ‘n plaaslike amptenaar kan die dodetal van dié ongeluk nog styg.
Die paaie in Marokko is onder die gevaarlikste in die wêreld. Meer as 4 000 mense sterf, volgens amptelike syfers, jaarliks in padongelukke in die land.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP