Burundi: 300 opposisielede in 5 maande vermoor
2011-11-23 14:36
Bujumbura – Moordbendes wat deur die regering ondersteun word, het in die afgelope vyf maande meer as 300 lede van 'n ontbinde Burundese rebelle-groep en opposisie-ondersteuners in die geheim vermoor, het ‘n menseregtegroep Dinsdag gesê.
Die groep beweer dat die Burundese regime en sy ondersteuners ‘n sistematiese veldtog van moorde teen die voormalige rebelle uitvoer.
“’n Duiwelse moordmasjien is besig om opposisie-aktiviste te teiken,” het Onesphore Nduwayo, die hoof van die Government Action Observatory, ‘n koalisie van menseregtegroepe, gesê.
“In die afgelope vyf maande is meer as 300 gedemobiliseerde FNL (National Liberation Forces)-vegters vermoor,” het hy gesê.
“Hierdie mense is deur die Imbonerakure (die regerende party se jeugliga) of die polisie in hegtenis geneem. Hulle is na onbekende plekke geneem en daar vermoor.”
Philippe Nzobonariba, ‘n regeringswoordvoerder, het aan AFP gesê dat hy in ‘n latere stadium op die aantygings sal reageer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP