Bomaanvalle ruk militêre basisse in Nigerië
2012-02-08 11:08
Lagos – Bomme het by twee groot militêre-basisse op die buitewyke van ‘n Sentraal-Nigeriese stad ontplof en ‘n onbekende aantal mense is beseer.
Die aanvalle kom in ‘n tyd wat die Islamitiese sekte Boko Haram toenemende gewelddadige aanvalle op Nigerië se swak sentrale regering loods.
Niemand het onmiddellik verantwoordelikheid vir Dinsdag se bomaanvalle aanvaar nie.
Nietemin het die staatstelevisie Dinsdag ‘n video van die groep uitgesaai waarin hulle beweer hulle verwelkom vredesgesprekke met die regering.
Die ontploffings het die Nigeriese weermag se 1ste Gemeganiseerde Bataljon-hoofkwartiere en die opleidingsentrum van die Nigeriese lugmag naby Kaduna geruk, het amptenare gesê.
Soldate en sekuriteitsagentskappe het toegang na die twee dele vinnig gesluit en sommige het beslag gelê op die kameras van joernaliste wat in die omgewing gewerk het.
‘n Derde ontploffing het naby ‘n hoofweg plaasgevind, maar amptenare het geen verdere besonderhede daaroor gehad nie.
Dit was onbekend hoeveel mense in die aanvalle beseer is, alhoewel getuies gesê het hulle het beseerde soldate in bloeddeurdrenkte uniforms gesien ná die aanvalle.
Lt. kol. Abubakar Edun, ‘n woordvoerder vir die Bataljon, het gesê twee verskillende motors wat met plofstowwe gelaai was, het deur die hekke van die hoofkwartiere gejaag. Slegs een het ontplof.
Maj. Genrl. Raphael Isa, ‘n woordvoerder vir die weermag, het in ‘n verklaring gesê dat een van die selfmoordbomaanvallers in ‘n militêre uniform geklee was.
Soldate wat die hek beman het, het op die man geskiet. Hy is aan die skietwonde dood.
“Die selfmoordbomaanvaller was die enigste sterfte,” het Isa gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP