Bom as skoolklok gebruik
2011-07-03 20:15
Kampala – Leerlinge aan ‘n skool in Uganda is dalk nooit bly om die klank van hul skoolklok te hoor nie, maar die alternatief kon veel erger gewees het.
‘n Groep wat deur die land reis om bewustheid te kweek oor die gevare van landmyne wat nie ontplof het nie – steeds ‘n probleem in ‘n streek wat oor die afgelope dekades deur konflik geteister is – was geskok toe hulle uitvind onderwysers by dié laerskool gebruik ‘n bom wat nie ontplof het nie as ‘n skoolklok, het die Daily Monitor Sondag berig.
Om sake te vererger was die bom steeds lewendig, selfs terwyl onderwysers met ‘n klip daarteen gekap het om die kinders nader te roep vir klasse of byeenkomste, het die koerant berig.
Die skool het sowat 700 leerlinge.
“Dit was vir ons ‘n skok om uit te vind dat die skool ‘n bom as ‘n klok gebruik,” het Wilson Bwambale, koördineerder van die Rwenzori Anti-myn-netwerk, aan die Daily Monitor gesê. Hy het gesê hy het die probleem opgemerk toe die onderwysers in sy teenwoordigheid die bom gebruik het om die leerlinge stil te maak.
Hy het gesê dit is gelukkig dat die onderwysers slegs met ‘n klip teen die bom gekap het. Volgens Bwambale is die bom van só ‘n ontwerp dat ‘n sterker krag as ‘n klip se impak nodig is om dit te laat ontplof.
“Die kop was steeds aktief, wat beteken dat dit onmiddellik sou ontplof as dit deur ‘n sterker krag getref word en ongekende verwoesting in die gebied sou saai. Maar ons het dit na ‘n afgesperde gebied geneem, waar ons dit binnekort sal laat ontplof.”
Dit is die tweede bom wat binne ses maande by ‘n skool in Uganda gevind word. Onderwysers by ‘n ander skool het vroeër opgemerk hoe leerlinge met ‘n bom speel.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA