Nigerië: Boko Haram wil soldate teiken
2012-01-02 22:19
Maiduguri – ‘n Woordvoerder vir die terreurgroep Boko Haram het gedreig dat dié groep soldate in Nigerië sal teiken nadat pres. Goodluck Jonathan ‘n noodtoestand in vier streke aangekondig het.
“Dit is belangrik dat almal bewus is daarvan dat dié soldate nét onskuldige Moslems van die plaaslike regering sal vermoor in die omgewings waar die noodtoestand aangekondig is,” het Abul Qaqa aan joernaliste gesê.
Intussen is ten minste 50 mense dood tydens gevegte oor grond in die suide van Nigerië, het die plaaslike media berig.
Die gevegte het laat Saterdagnag in die Ebonyi-staat plaasgevind. ‘n Groep mense van die Ezza-gemeenskap het inwoners van die Ezilo-gemeenskap aangeval. Die twee groepe is reeds vir jare in konflik oor grond.
Huise is erg beskadig tydens die aanvalle.
Die aanvalle het enkele ure nadat pres. Goodluck Jonathan die noodtoestand in die noord-ooste van die land aangekondig het, plaasgevind. Dié aankondiging kom na ‘n reeks bomaanvalle deur Boko Haram.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– SAPA-DPA
- Sapa - AFP