Boko Haram verwerp praatjies
2012-01-29 20:05
Kano – Nigerië se Islamistiese Boko Haram-groep het praatjies met die regering verwerp en met nuwe aanvalle gedreig in Afrika se mees digbevolkte land, wat geskud is deur aanvalle van dié groep, waarin meer as 200 mense reeds vanjaar gesterf het.
Inwoners van die noordelike stad Kaduna het gesê die groep, wat dikwels die polisie teiken, het moontlik weer Saterdag toegeslaan toe skieters op motorfietse ‘n polisiebeampte doodgeskiet het.
Die polisie het die beampte se dood vroeg Sondag bevestig, maar het gesê die aanvallers het probeer om die beampte se motorfiets te steel.
Die groep se dodelikste aanval het op 20 Januarie in Kano plaasgevind, waar gekoördineerde bomaanvalle minstens 185 mense dood gelaat het.
President Goodluck Jonathan, wat onder fel kritiek deurgeloop het te midde van die aanvalle, het die groep verlede week in ‘n media-onderhoud gevra om in gesprek met die regering te tree.
Jonathan se beroep op die groep was egter “nie opreg nie”, het Abul Qaqa, woordvoerder van Boko Haram, per telefoon aan joernliste gesê in die noordoostelike stad Maiduguri, wat as die groep se vesting beskou word.
“Ons dink nie dialoog is moontlik onder die huidige omstandighede nie,” het hy bygevoeg.
As lede van die groep wat gevange geneem is nie vrygelaat word nie, sal hulle “aanvalle in Sokoto loods wat soortgelyk aan die groot Kano-aanvalle sal wees,” het Qaqa gewaarsku.
Sokoto is ‘n stad in die noordweste van Nigerië.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP