Boko Haram verantwoordelik vir kroegaanval
2012-01-11 16:19
Abuja – Boko Haram, ‘n militante Islamitiese groep, het Woensdag verantwoordelikheid geneem vir ‘n aanval op ‘n kroeg in Potiskum, in die noordooste van Nigerië, waarin agt mense dood is.
Lede van die sekte het Dinsdagnag by die kroeg ingestorm en omstreeks 21:00 op die kroeggangers losgebrand. Een van die slagoffers was ‘n polisiebeampte, het Dauda Waziri, ‘n ooggetuie, gesê.
“Toe ons uit die kroeg geloop het, het ons drie mense wat soos nomadiese Tauregs aangetrek was na die kroeg sien stap. Kort daarna het ons geweerskote gehoor en weggehardloop,” het Waziri gesê.
Die aanval het in die Yobe-staat gebeur. Dit is een van die state in die noorde van Nigerië waar pres. Goodluck Jonathan ‘n noodtoestand afgekondig het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA