Boko Haram roof bank, dood een
2011-10-13 13:25
Maiduguri – Lede van ‘n radikale Moslem-sekte het ‘n bank in die noord-ooste van Nigerië beroof, ‘n polisiebeampte doodgeskiet en met ‘n onbekende hoeveelheid geld weggekom, het owerhede gesê.
Simeone Midenda, polisiekommissaris van die Borno-staat, het gesê die aanval het Woensdag in Damboa plaasgevind. Midenda het gesê die sekte-lede het motorfietse in die aanval gebruik.
Drie mense is beseer.
Die sekte, bekend as Boko Haram, het reeds talle bomaanvalle en sluipmoorde in die noorde van Nigerië uigevoer in ‘n poging om ‘n streng Sharia-regstelsel in Nigerië te implementeer.
Die sekte is ook verantwoordelik vir die bomaanval op die Verenigde Nasies se hoofkantoor op 26 Augustus. Altesaam 23 mense is tydens dié aanval dood, en 116 is beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP