Bobbejane saai verwoesting in Zim
2012-01-31 20:52
Zimbabwe – Troppe bobbejane wat handsakke steel en vragmotors stroop is daagliks besig om verwoesting te saai by die grensposte van Zimbabwe en Zambië in 'n poging om kos te steel, het NewsDay Dinsdag berig.
"Bobbejane is 'n kwessie waarna gekyk moet word omdat hulle reisigers se goedere verwoes," het Tichaona Phiri, stasiebestuurder by Zimbabwe se inkomstediens, by Chirundu se grenspos gesê.
"Hulle byt of klap die mense somtyds in hul gesigte wanneer hulle probeer om hul eiendom te verdedig. Hulle steel ook dames se handsakke en beskadig motors wanneer hulle na kos soek."
Die bobbejane het ook sakke mielies op vragmotors oopgeskeur wat deur die grenspos beweeg het.
"Die bobbejane kan die mielies op die vragmotors ruik. Die feit dat hulle getalle so groot is, maak dit moeilik om hulle te beheer," het Phiri gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA