Bloeddiamante kan verkoop word, sê Zim
2010-04-28 10:00
Harare. – Die hooggeregshof in Zimbabwe het die verkoop van diamante afkomstig uit ’n gebied bekend vir menseregtevergrype goedgekeur, ’n stap wat teenstrydig is met die Kimberley-proses, het die staatsbeheerde media gister berig.
Die verkoop van 300 000 karaat diamante uit die oostelike Marange-velde is verlede jaar deur die internasionale reguleerder gestop nadat daar bevind is dat Zimbabwe nie aan die standaarde wat gestel is vir menseregte voldoen het nie.
Harare het aanvanklik die transaksie gestop in afwagting van toestemming deur die plaaslike owerhede en die Kimberley-proses, wat daargestel is om die verkoop van sogenaamde bloed-diamante te verhoed. Die inkomste uit dié transaksies word gebruik om rebelle-bewegings te finansier.
Die staatsbeheerde Herald het egter gister berig dat die hooggeregshof nou die verkoop van die diamante wat aan die Britse maatskappy African Consolidated Resources behoort, goedgekeur het.
Obert Mpofu, minister van myne, het Harare se vasbeslotenheid om die Kimberley-proses teen te staan weer beklemtoon, hoewel Zimbabwe deel is van die groep.
“Ons gaan voordeel trek uit ons diamante, of die Kimberley-proses dit nou goedkeur of nie,” het hy volgens die staatsbeheerde New Ziana-nuusagentskap gesê.
Mpofu het ook gesê die land se vyande manipuleer die proses om te keer dat Zimbabwe voordeel trek uit die diamantverkope.
Die Kimberley-proses het verlede jaar berig oor geweld deur Zimbabwe se weermag wat die diamantvelde beheer, insluitend dwangarbeid, marteling en die mishandeling van burgerlikes.
’n Ondersoekbeampte van die Kimberley-proses het die land in Maart besoek om vas te stel of daar voldoen word aan menseregtestandaarde op die Marange-diamantvelde, wat meer as 66 000 hektaar beslaan. Die ondersoeker het bevind dat daar wel pogings aangewend word om prosedures te verbeter, maar die planne word nie in werking gestel nie. Die organisasie het Zimbabwe tot in Junie gegee om die vergrype stop te sit.
– Sapa-AFP