Bloed vloei in Tripoli se strate
2011-08-23 07:05
Tripoli. – Gesoek: Kol. Muammar Gaddafi, alias “Broeder Leier”, alias “Gids tot die Revolusie”.
Die Libiese diktator was Maandag skoonveld terwyl klein groepies van sy soldate ’n laaste, nuttelose poging aangewend het om beheer oor die hoofstad te behou.
Die rebellemagte het die grootste dele van Tripoli met ’n knyptangbeweging oorgeneem wat sowat 48 uur tevore van stapel gestuur is. Dit is gekoördineer om saam te val met wye oproer op straat.
Maandag was Ghaddafi (69) se laaste tenks en skerpskutters net in beheer van klein dele van die stad, insluitend sy Bab al-Aziziya-hoofkwartier en die hawe.
Inwoners wat laat Sondag op straat hul blydskap oor die einde van sy diktatorskap te kenne gegee het, het binne gebly terwyl geweervuur en ontploffende mortierbomme gehoor kon word.
“Daar is oral geweervuur. Daar is baie martelaars,” het ’n rebelle-offisier genaamd Abdulrahman met verwysing na die laaste soldate in die hoofstad gesê.
Die Libiese staatstelevisiekanaal is sedert Maandagmiddag van die lug af en die rebelle het te kenne gegee dat hulle in beheer is van die seintoestelle.
Die rebelle is Maandag deur feitlik die res van die wêreld as nuwe leiers van dié olieryke Noord-Afrika-land erken.
By talle Libiese ambassades in die buiteland, insluitend Pretoria, is die Libiese vlag gestryk en vervang deur die rebelle se vlag – dieselfde vlag wat Ghaddafi op 1 September 1969 met sý groen vlag vervang het toe hy koning Idris met ’n bloedlose staatsgreep uit die kussings gelig het.
Die Weste, onder andere pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk en pres. Barack Obama van die VSA, het Gaddafi aangemoedig om te aanvaar dat sy 42 jaar van absolute mag verby is en om die bloedvergieting ná ses maande van burgeroorlog tot ’n einde te bring.
Ná ’n uitdagende radio-uitsending Sondag waarin hy inwoners aangemoedig het om te veg teen die “rebelse rotte”, is niks verder van Ghaddafi gehoor nie.
Talle amptenare het te kenne gegee hulle weet nie waar hy hom bevind nie.
Daar was Maandagaand sprake dat hy ’n heenkome in Angola of Zimbabwe sou vind.
Sy premier, Al Baghdadi Ali al-Mahmoudi, het wel Maandag tot in Djerba, Tunisië, gevlug.
Drie van Gaddafi se seuns is deur die rebelle gevange geneem, onder andere Saif al-Islam – wat reeds saam met sy pa deur die internasionale strafhof aangekla is van misdade teen die mensdom.
Luidens berigte het twee van sy seuns, Khamis en Mutassim, tot onlangs nog voortgeveg.
Talle waarnemers was bang dat die rebelle, wat uit talle gefragmenteerde groepe bestaan, ná ’n magsoorname onder mekaar kan begin baklei of op vergelding kan aandring.
Die hoof van die Nasionale Oorgangsraad, Mustafa Abdel Jalil, het in Benghazi op ’n nuuskonferensie ’n beroep op alle Libiërs gedoen om selfbeheersing aan die dag te lê.
Hy het gevra hulle moet “nie eie reg gebruik nie”.
Hy het ook laat blyk dat ’n nuwe regering voorkeur sal gee aan maatskappye uit lande wat die rebelle ondersteun het wanneer dit by die toeken van olieregte kom.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters