Betrekkinge tussen Marokko, Algerië verbeter
2011-11-18 08:50
Tangiers, Marokko – Marokko wil aan sy verhouding met Algerië, sy buurland, werk na dekades se twis oor die westelike Sahara-streek, het die minister van buitelandse sake Donderdag gesê.
“Wat ook al die verskille, dit is abnormaal om nie ‘n normale verhouding met ‘n buurland te hê nie,” het Taeib Fassi Fihri na ‘n vergadering met Mourad Medelci, sy Algerynse eweknie, gesê.
Medelci het gesê hy is bly om te sien dat die verhouding tussen Marokko en Algerië versterk en dat daar ‘n plan moet wees om toekomstige diplomatieke verbintenisse te bestuur, het Marokko se MAP-nuusagentskap berig.
Die grens tussen die twee lande is in 1994 gesluit ná ‘n militante Islamitiese aanval in Marrakesj wat Marokko op die Algerynse geheime taakmag blameer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP