Betogers teen leier in Ivoorkus doodgeskiet
2010-12-17 07:34
Abidjan – Minstens vier mense is gister in die Ivoorkus se hoofstad dood toe troepe lojaal aan pres. Laurent Gbagbo losgebrand het op ’n optog ter ondersteuning van die presidensiële aanspraakmaker mnr. Alassane Ouattara.
“Ek het vier dooies en baie gewondes gesien. Hulle het met gewere geskiet om ons terug te jaag toe ons straataf probeer stap het,” het ’n lid van ’n groep Ouattara-ondersteuners gesê. Die betogers was op pad om die staatsuitsaaidiens te gaan beset.
Amnestie Internasionaal het gesê hy het getuieverslae van minstens nege sterftes ontvang.
Swaar geweervuur is naby ’n hotel gehoor waar Ouattara se ondersteuners byeengekom het.
“Daar is ’n skietery net waar jy kyk. Ons hoor ook ontploffings. Dit kom alles uit die rigting van die Golf-hotel,” het een van die ooggetuies gesê.
Ouattara word deur die Verenigde Nasies, Amerika, Afrika-state en Frankryk as die wenner van die verkiesing op 28 November erken.
Gbagbo, gesteun deur die land se topregsliggaam, klou aan die presidenskap. Grootskeepse stemknoeiery is glo in die noorde gepleeg deur rebelle wat Ouattara steun.
Die polisie het betogers eergister in die stad Yamoussoukro met traanrook en geweervuur uiteengejaag.
Volgens twee ooggetuies is ’n betoger deur ’n polisielid doodgeskiet, maar ’n polisiewoordvoerder het gesê die oorledene was ’n polisielid.
– Reuters