Betogers maak amok in Kampala
2011-04-29 13:11
Kampala - Betogers het brandende padblokkades in die middestad van Kampala, Uganda opgestel en met die polisie, wat traangas afgevuur het, gebots.
Betogings het Vrydag handuit geruk nadat Uganda se opposisieleier, Kizza Besigye, vir die vierde keer hierdie maand in hegtenis geneem is.
Volgens ooggetuies het die betogers rommel en brandende bande gebruik om die padblokkades rondom die mark in die middel van die hoofstad op te stel.
Polisie wat ontplooi is het traangas gebruik om die betogers uitmekaar te dwing.
“Dit het in die oggend begin toe groepe jongmense begin het om bande aan die brand te steek en padblokkades in die Kiseka-mark opgestel het,” het Judith Nabakooba, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.
Nabakooba het gesê dat sekuriteitspersoneel ontplooi is en dat hulle besig is om die brandende bande te blus.
Volgens Nabakooba het die polisie “nog nie vasgestel” wat die oorsaak van die opstande is nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP