Besetters brand boer se huis af
2009-09-03 09:33
Dominic Chimhavi
Harare - Hy het gewaag om die Mugabe-regering voor ’n internasionale hof te daag en te wen. Sondag het hy weer daarvoor geboet.
Mike Campbell (76) se huis van meer as 50 jaar op die spogplaas Mount Carmel, wes van Harare, is Sondag deur plaasbesetters afgebrand. Dit kom nadat sy skoonseun, mnr. Ben Freeth, se huis Saterdag op dieselfde plaas aan die brand gesteek en verwoes is.
Campbell en Freeth het verlede jaar namens 77 wit boere wie se plase in Zimbabwe beset is, ’n saak by die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Windhoek aanhangig gemaak.
Hulle het dié saak gewen en die Zimbabwiese regering is onder meer opdrag gegee om die boere vir hul plase te vergoed en het beslis dat boere – soos Freeth en Campbell – wat nog nie hul plase verlaat het nie, ongesteurd toegelaat moet word om te boer.
Sedert die SAOG-tribunaal se eerste uitspraak in Windhoek het die hof sy beslissing vroeër vanjaar herbevestig. Dié uitspraak is deur die nuwe regering verontagsaam.
“Ek weet nie wat om nou te doen nie; hulle brand my skoon- ouers se huis af op die dag dat die SAOG-ministersberaad in Kinshasa begin.
“Die waarheid is dat hierdie eenheidsregering geheel en al misluk het en dat Zanu-PF steeds die gesag van die SAOG-tribunaal minag,” het ’n bewoë Freeth gister gesê.
Nelson Chamisa, die Zimbabwiese minister van inligting en ’n lid van premier Morgan Tsvangirai se MDC, het gister gesê die voortgesette geweld teen wit boere moet gestaak word.
Hy het ’n beroep op die SAOG-leiers in Kinshasa gedoen om die Windhoek-tribunaal se beslissing af te dwing.
– Beeld