Ben Ali skuldig aan marteling van soldate
2011-12-01 10:00
Tunis – Zine El Abidine Ben Ali, die ontsetelde leier van Tunisië, is Woensdag in absentia vyf jaar tronkstraf opgelê vir die marteling van weermagbeamptes wat ‘n staatsgreep teen hom gelei het, het ‘n regsbeampte gesê.
Sedert Ben Ali tydens die opstand teen hom in Januarie die tuig neergelê het, is ‘n aantal beskuldigings teen hom gemaak.
Die beskuldigings sluit in geldverduistering, die onwettige besit van wapens en dwelmmiddels en die misbruik van mag.
‘n Militêre tribunaal het hom Woensdag skuldig bevind aan die marteling van weermagbeamptes wat daarvan beskuldig is dat hulle ‘n staatsgreep in 1991 teen hom gelei het, het ‘n bron aan AFP gesê.
Abdallah Kallal, Ben Ali se voormalige minister van binnelandse sake, en Mo hamed Ali Ganzoui, die voormalige veiligheidshoof, is ook vervolg.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het gesê hulle gaan teen die uitspraak appelleer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP