Ben Ali se verhoor skop af
2011-06-20 15:00
Tunis – Die voormalige president van Tunisië, Zine el-Abidine Ben Ali, se verhoor het Maandag in Tunis in absentia begin.
Die saak teen Ben Ali en sy vrou Leila, waarin hulle aangekla word van diefstal en bedrog oor die ontdekking van miljoene dollar se kontant en juwele by een van hulle paleise, het Maandag in ‘n landdroshof in die hoofstad afgeskop.
Die vonds is gemaak nadat hulle op 14 Januarie na Saoedi-Arabië gevlug het.
Ben Ali word ook verhoor omdat daar beslag gelê is op wapens en dwelms by ‘n ander paleis.
Ben Ali is uit sy pos verwyder ná ‘n maand se straatbetogings oor korrupsie en onderdrukking wat daartoe gelei het dat soortgelyke opstande in Egipte, Libië en ander lande in Noord-Afrika en die Midde Ooste begin het.
Die aanklagte, wat deur die 74-jarige voormalige leier ontken word, dra elk ‘n vonnis van tot 20 jaar en is slegs die eerste van 93 aanklagte waardeur hy in die gesig gestaar word.
Die outokratiese leier was 23 jaar aan bewind en hy en sy gevolg sal ook teregstaan op aanklagte van marteling en moord.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA