Ben Ali kan van moord aangekla word - Tunisië
2011-04-14 17:03
Tunis - Tunisiese aanklaers wil die oorwonne president Zine el Abidine Ben Ali voor die hof daag op 18 verskillende aanklagtes, insluitend moord en dwelmhandel, volgens dié land se minister van justisie.
“Die aanklagtes sluit in moord, sameswering teen die veiligheid van die staat en die gebruik en handel van dwelms,” het Lazhar Karoui Chebbi, die minsiter, Woensdag gesê.
Dit is die eerste keer dat owerhede 'n volledige oorsig van die klagtes teen Ben Ali gee wat hy in die gesig sal staar sou hy aan die land uitgelewer word.
Die regering het al voorheen bevestig dat Ben Ali vir moord en ontlokking in hegtenis geneem kan word.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP