Bekendes boikot Botswana
2010-11-04 05:00
Johannesburg – ‘n Groep bekendes, insluitende die X-Files-ster Gillian Anderson, boikot diamante van Botswana in ‘n betoging teen die regering se behandeling van die Kalahari Boesmans, het ‘n menseregtegroep Woensdag gesê.
Die groep, Survival International, het ook ‘n betoging buite die De Beers diamantwinkel in Londen gehou en het ‘n beroep gedoen dat die inheemse groep volle regte gegee word tot hul voorvaders se land.
“Mense moet weet dat Botswana-diamante ‘n simbool is van die ondrukking van Suider-Afrika se eerste mense,” het Stephen Corry, direkteur van Survival International, in ‘n verklaring gesê.
Die groep het ook ‘n beroep gedoen dat mense toerisme en reis van Botswana boikot.
Ander bekendes wat deel is van die boikot is die aktrises Joanna Lumley em Sophie Okonedo, die akteur Mark Bylance en die Britse kinderskrywer Quentin Blake.
Die Boesmans, Suider-Afrika se eerste inwoners, is in 2002 buite hul tradisionele tuiste in die Sentrale Kalahari Wildreservaat hervestig nadat diamante daar gevind is.
Botswana produseer amper ‘n kwart van die wêreld se diamante en dra by tot sowat ‘n helfte van die regering se inkomste.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP