Bejaarde se plaas in Zim gevat
2011-12-07 07:00
Figtree, Bulawayo. – Rose Androliakos (79) moes Woensdag hier toekyk hoe die laaste stukkie van haar plaas van 10 000 ha deur oorlogsveterane oorgeneem word.
Androliakos en haar familie is verlede week gewaarsku dat hul plaas, Maredale, aan Maclean Bala van die Lupane-universiteit en Tabane Ndlovu, ’n grootkop by Wankey Colliery, die plaaslike steenkoolaanleg, toegeken is.
Sedert 2000 is die plaas wat Androliakos en haar man, Nicholas, in 1985 gekoop het, stuk-stuk deur oorlogsveterane en ander grootkoppe oorgeneem in wie se guns die grondhervormingswetgewing in Zimbabwe tel.
Ondanks die 2009-ooreenkoms tussen Zimbabwiese politieke partye wat verdere grondbesetting onwettig verklaar, word tientalle plase steeds na individue met politieke bande oorgedra.
Volgens mnr. Mark Androliakos, Rose se seun, word ’n boer met ’n brief gekonfronteer wat sê die regering het die plaas aan ’n spesifieke individu toegeken. Dié briewe behoort die stempel van die minister van landbou en grondhervorming te dra, maar word dikwels deur junior amptenare uitgereik.
Die howe weier om hulle oor die briewe uit te spreek omdat regters dikwels aan die ontvangkant van Zanu-PF staan, hetsy intimidasie of geskenke. Sommige regters het self plase van die regering ontvang.
Volgens Chris Jarred, ’n boer wat ses plase weens grondbesetting verloor het, is die MDC te bang om die kwessie met Zanu-PF te bespreek. “Hulle is bang hulle verloor stemme omdat hulle namens die belange van wit boere praat,” het hy gesê.
Die Androliakos-familie het gister (Dinsdag) naarstiglik ’n interdik teen die grondbesetters probeer kry, maar terwyl die hof daaroor besluit het, het 15 welgeklede jong mans en vroue rondom die plaashek vergader.
Toe Beeld by die hek aankom, was een man besig om die slot van die hek met ’n byl by te kom.
Die balju het in ’n silwer Jeep Cherokee aangekom. Een polisieman was aan diens om te verseker geen geweld vind plaas nie. Niemand wou met Beeld praat nie.
Nadat die slot gebreek is en die hek oopgemaak is, het ’n klein trok ingery om van die beeste in die krale op te laai.
Rose Androliakos het reeds vroeër die oggend ’n oornagtassie gepak om by haar kinders in Bulawayo te oornag.
Sy het aan Beeld gesê sy koester geen haat teenoor die besetters nie.
“Hulle wil die hele plaas oorneem omdat hulle reeds driekwart daarvan in hul hande het. So ek sal vir ’n tydjie by my kinders in die dorp gaan woon, maar nie vir altyd nie. Ek glo alles gebeur om ’n rede, maar ek glo ook dat ons op hierdie plaas is om ’n rede.”
In Figtree staan die supermark en slaghuis wat Mark Androliakos eens besit het verlate.
Die geboue, asook die kerk en die gemeenskapsaal wat as ’n afsetpunt vir die koop en verkoop van beeste gedien het, is sedert 2000 deur oorlogsveterane oorgeneem, maar dit het nooit weer sake gedoen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld