Beijing nie beïndruk met Clinton se Afrika-besoek
2012-08-05 16:42
Kaapstad – Hoewel sy China nie vir kritiek uitgesonder het nie, het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, kwaai reaksie van Beijing uitgelok gedurende haar sewe-nasie-toer deur Afrika.
Clinton het gedurende ‘n toespraak wat sy in Senegal gelewer het aan die begin van haar 11-dag-toer, vennootskappe met die VSA aangemoedig wat “sal opstaan vir demokrasie en universele menseregte, selfs wanneer dit makliker is om na die ander kant te kyk”.
Haar opmerkings het ’n skerp reaksie van Beijing gelok. Die amptelike nuusagentskap, Xinhua, het Clinton daarvan beskuldig dat sy “’n verskuilde agenda het”.
“Of Clinton onbewus is van die korrekte feite en of sy verkies om dit te ignoreer is nie duidelik nie, maar die insinuasie dat China besig is om Afrika van sy rykdom te ontneem, is totaal ongegrond.”
“Haar opmerkings verraai die VSA se poging om ’n wig tussen China en Afrika te bring, vir sy eie selfsugtige gewin,” het Chinese owerhede volgens Xinhua gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.