Bedrogklag oor Mosambiek-erwe
2011-08-12 09:06
’n Klag van bedrog is Donderdag teen Braam Bruwer aanhangig gemaak nadat hy glo geld as deposito’s van mense gevat het vir erwe in ’n gholflandgoed in Mosambiek wat nog nooit ontwikkel is nie.
Buiten vir dié gholflandgoed wat aan die Bilene-meer in die Gaza-provinsie geleë is, is Bruwer (70) ook die mede-eienaar en ontwikkelaar van die La Perla-vakansieoord wat verlede maand deur die Mosambiekse regering teruggevat is.
“In die kontrak is daar ’n klousule wat lui dat as ’n situasie ontstaan, is dit my reg as ontwikkelaar om die projek uit te stel of te verander of te wag tot die ekonomiese situasie verbeter,” het Bruwer Donderdag gesê.
“Die verbetering van die ekonomiese situasie hang af van die kliënte. As hulle die volle prys vir die erwe betaal, gee ek vir hulle ’n boulisensie en kan hulle begin bou.”
Johan van der Nest (50), ’n stoetvee-afslaer van Vryburg, het gesê ’n vriend het hom en nog vier mans in Desember 2007 genader met ’n advertensie rakende die ontwikkeling van ’n gholflandgoed, Calanga Dune Golf Estate deur die ontwikkelingsmaatskappy, Selva Praia II.
Volgens Van der Nest het hy en sy vyf vriende besluit om ’n eenheid, B44, saam te koop.
Hulle moes vir dié eenheid wat R1,95 miljoen kos, ’n deposito van R750 000 betaal.
Van der Nest het R250 000 bygedra vir die deposito.
Hy het gesê hulle het navrae rakende die ontwikkeling gedoen en agtergekom daar gaan nie veel aan nie.
“Ek, ’n vriend en ’n prokureur het uiteindelik in Oktober 2008 ’n vergadering gehad met Braam en sy prokureur, Nic de Beer,” het Van der Nest gesê.
“Ons het agtergekom ’n wanvoorstelling is gemaak.
“Ons het vir hulle gesê ons soek ons geld terug. Braam het gesê hy gaan probeer om die plek te verkoop sodat ons ons geld kan terugkry.”
Van der Nest het Flip van Huyssteen, ’n private ondersoeker, aangestel om hul geld by Bruwer te kry.
Van Huyssteen was met sy ondersoek twee keer in Bilene om na die ontwikkeling te kyk.
“Daar waar Bruwer wil ontwikkel, is niks. Nie water of elektrisiteit nie, net ’n sandduin,” het Van Huyssteen gesê.
Volgens Bruwer het een kliënt sy boulisensie gekry nadat hy die volle bedrag betaal het en is dié kliënt besig om sy huis te bou. Hy het verder gesê die kliënte het die geld in ’n trustrekening van De Beer betaal. Volgens hom moet die kliënte bewys hy het die geld.
Hy het ook gesê die kliënte se kontrakte is by De Beer en nie by hom nie. Hy het verder gesê Van der Nest is nie op sy databasis nie, maar dat daar wel ’n groep van Vryburg is wat ’n huis gekoop het. Dié groep het volgens Bruwer nie die kontrak nagekom nie omdat hulle nog nie die volle bedrag betaal het nie. “Hulle (die kliënte) wil die polisie gebruik om by my geld terug te kry. Hulle mors hul tyd,” het Bruwer gesê.
Sers. Kealeboga Molale, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig ’n bedrogsaak is aangemeld.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld