Bashir aangekla dat hy Islam besmet
2010-02-16 12:07
Khartoum – Soedan se vorige leier het president Omar al-Bashir daarvan aangekla dat hy Islam 'besmet' en het gewaarksu dat daar geweld in Darfur kan uitbreek voor die verkiesing plaasvind.
Die voormalige leier Sadiq al-Mahdi (wat die opposisie party Umma lei) het Bashir se party gekritiseer tydens sy politieke veldtog vir die verkiesing wat in April plaasvind.
“Hulle het die goeie naam van Islam bederf want hulle het Islam met diktatorskap en geweld geassosieer,” het Mahdi gesê.
“Ons glo dat dit onaanvaarbaar is. Islam verwelkom vryheid, geregtigheid, verdraagsaamheid en ons dink hulle het die goeie naam van Islam besmet deur dit in ‘n beperkende en oppressiewe lig te plaas,” het hy gesê.
Mahdi, wat al twee keer Soedan se eerste minister was, word beskou as Bashir se hoof opposissie.
Bashir, wat al voorheen met Osama bin Laden (hoof van al-Kaïda) geassosieer is, word tans deur die Internasionale Misdaadhof gesoek vir aanklagtes van oorlogsmisdade wat na bewering in Darfur gepleeg is.
Volgens Mahdi is daar ‘n risiko dat geweld gaan uitbreek voor die verkiesing plaasvind.
- Reuters