Appèldatum vir Ben Ali-familie gestel
2011-09-20 16:03
Tunis – Die appèlverhoor vir die familielede van Tunisië se voormalige president, Zine el Abidine Ben Ali en sy vrou, Leila Trabelsi, is vir 3 Oktober by ‘n appèlhof in Tunis geskeduleer.
Die familielede van die gewese diktator en sy gevreesde vrou – wat na Saoedi-Arabië gevlug het – is in Augustus gevangenisstraf wat wissel van vier maande tot ses jaar opgelê.
Die meeste van hulle is op 14 Januarie in hegtenis geneem toe hulle uit Tunisië probeer vlug het nadat weke se druk van die massas Ben Ali gedwing het om te vlug.
Hulle het tereggestaan op ‘n reeks aanklagte wat verband hou met hul mislukte poging om te ontsnap, insluitende die onwettige besit van buitelandse valuta en juweelsmokkelary.
Talle ander geregtelike prosedures teen Ben Ali, sy familie en ministers is onderweg.
Baie Tunisiërs is ontevrede met die stadige vordering van dié prosedures en vrees dat die ou regime steeds ondersteuners in die huidige oorgansadministrasie het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP