Angolese joernalis kry tronkstraf vir laster
2011-10-11 16:45
Luanda – ‘n Angolese joernalis kan op aanklag van laster ‘n jaar tronkstraf kry nadat hy in ‘n gepubliseerde artikel die militêre elite van korrupsie beskuldig het.
William Tonet, die redakteur van die Folha 8-koerant, het volgens ‘n hof in Luanda vyf dae om 10 miljoen Kwanzas (sowat R850 000) skadevergoeding te betaal of om een jaar tronkstraf uit te dien.
In die artikel wat in 2008 gepubliseer is, het Tonet drie generale van die Angolese weermag van selfverryking en misbruik van mag beskuldig.
Tonet het aan AFP gesê dat hy deur die regerende MPLA-party geteiken word.
“Vir die MPLA-regime is ek ‘n man wat neergeslaan moet word,” het hy gesê.
“Waar gaan ons die geld kry om te betaal? Ek verkies dit om tronk toe te gaan.”
Jose dos Santos, die Angolese president, onderdruk gereeld kritici van sy regering.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP