Angola: Mediese noodtoestand verklaar weens polio
2011-11-04 15:20
Luanda – Die noordelike Angolese provinsie Uige het ‘n mediese noodtoestand verklaar nadat ‘n 14 maande oue seuntjie positief vir polio getoets het, het Unicef Donderdag gesê.
Die seuntjie, wat nie ingeënt is nie, bly in Quimbele, ‘n afgeleë omgewing naby die grens met die Demokratiese Republiek van die Kongo, waar daar volgens Unicef vanjaar reeds nege bevestigde gevalle van polio was.
“Dit bewys dat dit werk wanneer ons die siekte dophou,” het Rui Vaz, verteenwoordiger van die Wêreldgesongheidsorganisasie, in ‘n verklaring gesê.
“Die nuwe geval is plaaslik ontdek en die bloedmonsters is met die hand afgelewer na ‘n drie dae lange staptog deur die bosse. Die stelsel werk duidelik en kan selfs die mees verafgeleë plekke monitor.”
Die polio-virus het weer in 2005 in Angola kop uitgesteek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP