Amptenare warm onder die kraag oor hemp-reël
2010-03-19 13:04
Gaborone – Kortbroeke, stywe rompe en suggestiewe T-hemde is uit en volgens nuwe regulasies moet manlike staatsamptenare in Botswana nou langmouhemde dra.
Die temperatuur in Botswana styg maklik tot by 38°C, maar die regering dring aan dat as staatsamptenare dié nuwe regulasies verontagsaam, hulle dalk sonder werk sal sit.
Die nuwe regulasies is verlede week bekendgestel, sonder dat die land se tradisioneel konserwatiewe regeringsowerhede ‘n rede vir die wysiging aangevoer het.
Die onderwysersunie in Botswana het die reëls as “drakonies” bestempel en het amptenare van die departement van opvoeding daarvan beskuldig dat hulle onderwysers treiter.
Volgens Justin Hunyepa, sekretaris van die onderwysersunie, is die regering uit voeling met die res van die wêreld en totaal en al onrealisties.
“Kleredrag behoort met die verskillende unies bespreek te word,” het hy gesê.
“Mens kan nie verwag dat mense nét langmoue in dié hitte dra nie.”
– Sapa