Amok in Uganda oor beurtkrag
2011-11-16 08:12
Kampala – Ugandese handelaars het Dinsdag verskeie strate in die hoofstad afgesper as deel van ‘n protesaksie teen langdurende kragonderbrekings in die land, het polisie en ooggetuies gesê.
Kragonderbrekings het in die afgelope paar maande toegeneem nadat die regering versuim het om sy rekeninge by kragopwekkers te betaal. Huise en maatskappye in verskeie dele van die land word vir dae aaneen sonder elektrisiteit gelaat.
“Daar was ‘n groot skare mense in die strate wat bande gebrand het en geskree het omdat hulle kwaad is oor die kragonderbrekings,” het Robert Muwebe, ‘n winkeleienaar in Kampala, gesê.
Muwebe het gesê dat gedeeltes van die middestad vir vier dae sonder krag was weens beurtkrag wat deur Umeme, die nasionale kragverspreidingsmaatskappy, toegepas word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP