Amerikaner in Somalië ontvoer
2012-01-21 23:00
Mogadisjoe – Gewapende mans het Saterdag ‘n Amerikaanse man in die noordelike Somaliese dorp Galkayo ontvoer, het amptenare gesê.
Die gewapende mans het die Amerikaner se motor omsingel, kort nadat hy die lughawe verlaat het, het ‘n polisiebeampte, Abdi Hassan Nur, wat ‘n getuie was, gesê.
Hulle het die man toe in ‘n ander motor ingedwing, het hy gesê.
Galkayo is op die grens tussen Puntland en ‘n streek wat as Galmudug bekendstaan.
‘n Minister van die Galmudug-administrasie sê die ontvoerde man is ‘n Amerikaanse ingenieur wat na Somalië gegaan het om ‘n evaluasie te doen vir ‘n diepwater-hawe wat in Hobyo gebou gaan word.
Die gewapende mans het die Amerikaner se Somaliese metgesel erg geslaan toe hy hulle gesmeek het om nie die man te neem nie, het die minister gesê.
Die minister het op die voorwaarde van anonimiteit gepraat, aangesien hy nie met die media mag praat nie.
Drie werknemers van die Danish Demining Group, ‘n Amerikaner, ‘n Deen en ‘n Somaliër, is in Oktober naby die Galkayo-lughawe ontvoer, het AFP berig. Die Somaliër is later vrygelaat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP