Ambassade van Libië loop deur onder afvalliges
2011-07-26 07:00
Sofia (Bulgarye). – ’n Groep Libiese diplomate en personeel het die Libiese ambassade in dié stad bestorm, portrette en standbeelde van kol. Muammar Gaddafi flenters geslaan en verklaar die ambassade is nou onder die beheer van die rebelleregering, het die TV-kanaal BTV Maandag berig.
Beeldmateriaal van dié private TV-stasie wys hoe verskeie rebelle-ondersteuners die Libiese vlag afhaal en ’n borsbeeld van die Libiese leier in die ambassade se agterplaas in stukke breek.
Die groep, onder leiding van konsul Ibrahim al-Foeris, het die ambassade se seël en kluis oorgeneem en toe verklaar hulle sluit by die rebelle aan.
Ghaddafi klou vas aan die mag ten spyte van ’n bombarderingsveldtog deur Navo en ’n binnelandse rebellie wat sy regering van 41jaar probeer beëindig.
Die groep het die tussentydse diplomatieke verteenwoordiger en sy sekretaris aangehou. Beide het geweier om die Libiese leier te veroordeel. Volgens BTV is die twee later toegelaat om te loop.
Terselfdertyd het die Bulgaarse ministerie van buitelandse sake Al-Foeris persona non grata verklaar en hom gevra om die land binne 24 uur te verlaat. Die ministerie wou nie ’n rede vir die besluit gee nie, maar het gesê die stap hou nie verband met Al-Foeris se bestorming van die ambassade nie.
’n Amptelike bron het gesê Al-Foeris het die aanval op die ambassade gelei nadat hy ingelig is hy gaan geskors word.
Hy word ook nie erken as ’n verteenwoordiger van die rebelle se Libiese Nasionale Oorgangsraad nie.
Bulgarye het verlede maand dié raad as legitieme verteenwoordiger van die Libiese nasie erken.
Die land het sy ambassade in Tripoli tydelik gesluit en daar is tans geen Bulgaarse diplomate in Libië nie, het ’n woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters