Al-Shabaab hou Keniaanse gyselaars aan
2012-01-13 10:45
Nairobi – Al-Shabaab, ‘n militante groep in Somalië wat met al-Kaïda verbind word, het gesê dat dit talle Keniane as gyselaars aanhou na ‘n aanval in die noorde van Kenia waartydens ses mense dood is.
Drie polisiebeamptes, ‘n gemeenskapswerker en ‘n laerskoolonderwyser is van die ses slagoffers wat laat Woensdagnag in die aanval dood is, het James ole Seriani, die provinsiale polisiekommissaris, gesê.
‘n Swanger vrou is ook in die aanval dood.
Seriani het gesê dat vier regeringsbeamptes nou vermis word, insluitend ‘n distrikbeampte
Al-Shabaab het Donderdag in ‘n persverklaring gesê die identiteit van die gyselaars sal binnekort bekendgemaak word, maar hulle het nie gespesifiseer hoeveel gyselaars hulle aanhou nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP