Al-Kaïda verantwoordelik vir ontvoerings
2009-12-08 10:55
Dubai – ‘n Woordvoerder vir Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM) het verantwoordelikheid aanvaar vir die ontvoering van ‘n Fransman en drie Spanjaarde, wat verlede maand onderskeidelik in Mali en Mauritanië ontvoer is.
"Twee eenhede van die brawe mujahedeen het dit reg gekry om vier Europeërs in twee aparte voorvalle te ontvoer. Die eerste in Mali, waar Pierre Camatte van Frankryk op 25 November gevang is, en die tweede in Mauritanië, waar drie Spanjaarde op 29 November ontvoer is,” het Saleh Abu Mohammad gesê.
Saleh het die Spaanse gyselaars se name bekend gemaak; Albert Vilalta (35), Alicia Gamez (35) en Roque Pascual (50).
Hy het gesê dat Frankryk en Spanje op ‘n latere stadium van die eise van die mujahedeen in kennis gestel sal word. Geen besonderhede oor wat hierdie eise mag wees is bekend gemaak nie.
Camatte is van sy hotel in Menaka in die Sahel-streek, noord Mali, ontvoer. Die drie Spanjaarde, twee mans en ‘n vrou, wat in Mauritanië ontvoer is, het as vrywilligers daar gewerk.
Die AQIM is ‘n vleuel van Osama bin Laden se Al-Kaïda-terroristegroep.
- Sapa