Al-Kaïda dalk agter ontvoering van SA man
2011-11-27 09:31
Johannesburg – ’n Suid-Afrikaner wat uit Brittanje op pad was om hom weer permanent in Suid-Afrika te vestig, is Vrydag saam met ’n groep toeriste in Timboektoe in Mali ontvoer.
Daar word gevrees dat gewapende Moslem-ekstremiste verwant aan Al-Kaïda Stephen McGown (37) saam met ’n Nederlander en ’n Sweed ontvoer het.
’n Duitse burger wat hom tydens die ontvoering teengesit het, is koelbloedig in die straat doodgeskiet.
Volgens ’n familielid van McGown, wat weens veiligheidsredes nie sy naam genoem wil hê nie, het niemand tot dusver verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval nie.
“Ons is uiters bekommerd oor Stephen. Dit is wel bekend dat toeriste gereeld hier ontvoer word en yslike losprys-betalings dan van hul families geëis word,” sê die familielid.
“Die owerhede het ons gewaarsku om so min as moontlik kontak met die buitewêreld te maak sodat die ontvoerders nie by ons kan uitkom nie. Ons is nie veronderstel om enige name of ander inligting bekend te maak wat die ontvoerders na ons kan lei nie. Ons moes selfs Stephen se Facebook-profiel verwyder.”
McGown het die afgelope agt jaar in die bankwese in Brittanje gewerk en het besluit om met sy motorfiets vanuit Europa deur Afrika tot in Suid-Afrika te reis, sê die familielid.
“Stephen het altyd gesê Afrika is in sy bloed en hy sal nooit hier kan wegbly nie.”
Sy plan was om sy vrou later saam te bring en hom permanent hier te vestig.
Sy toer deur Afrika sou eers teen Februarie tot ’n einde kom, maar hy het soveel probleme gehad om visums vir verskillende Afrikalande te bekom, dat hy verlede week besluit het om sy toer kort te knip, sê die familielid.
Nadat McGown Vrydag ontvoer is, is toeriste opdrag gegee om Timboektoe te ontruim. Hulle is per vliegtuig uit die stad geneem.
Ali Maiga, ’n plaaslike toergids, sê hy was saam met McGown en nog drie ander mans by ’n restaurant toe hulle aangeval is.
Volgens ’n ooggetuie het die gewapende mans by die restaurant ingestorm en die slagoffers gegryp.
Toe die Duitser weier om in hul vragmotor te klim, is hy koelbloedig doodgeskiet.
Ward Bezemer, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, sê dat hy in belang van die betrokkenes nie oor die voorval kan praat nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport