Al-Kaïda-adjunk: Weste agter Libiese olie aan
2011-05-23 13:50
Kaïro - Die waarskynlike nuwe leier van Al-Kaïda het gesê dat Navo se operasies in Libië bedoel is om Muammar Gaddafi se regering omver te werp sodat die Weste ‘n “marionet-regering” kan instel en beheer oor Libië se olie kan verkry.
In ‘n 49-minuut lange klankopname het Ayman al-Zawahri, die nommer twee man in Al-Kaïda, Libiërs aangemoedig om wapens aan te skaf om in ‘n guerrilla-oorlog teen die westerse koalisie te gebruik.
Die klankopname is glo oor die naweek op militêre internet-forums gepubliseer. Volgens die webwerwe is die opname gemaak voor die Amerikaanse weermag Osama bin Laden op 2 Mei doodgeskiet het.
Gerugte doen die ronde dat Al-Zawahri die waarskynlike kandidaat is om Bin Laden as leier van Al-Kaïda op te volg. Hy werk glo naby die grens tussen Pakistan en Afghanistan.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP