Al-Bashir steeds 'n vry man ondanks lasbrief
2011-10-14 12:32
Lilongwe – Omar al-Bashir, die Soedannese president, het Donderdag in Malawi aangekom vir ‘n streekshandelberaad ondanks die lasbrief wat deur die internasionale strafhof vir sy inhegtenisname uitgereik is.
Bashir en sy afvaardiging van 26 lede is deur tradisionele dansers en ‘n erewag van Malawiese soldate verwelkom. Malawi is volgens ‘n ooreenkoms verplig om Bashir in hegtenis te neem weens oorlogsmisdade wat in Darfoer gepleeg is.
‘n Beampte van Malawi se departement van buitelandse sake het egter bevestig Malawi sal nie die Soedannese president in hegtenis neem nie.
“Hoekom? Hy is hier as ‘n vriend van president Bingu wa Mutharika,” het die beampte gesê. Hy wou nie sy naam bekend maak nie.
Bashir sal die jaarlikse beraad vir die Gemeenskapsmark vir Oos- en Suider-Afrika (Comesa) bywoon. Dit begin Vrydag in Lilongwe, Malawi se hoofstad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP