Afrika steeds die hardste getref deur MIV
2009-07-22 17:06
Londen – Afrika, spesifiek die deel van die kontinent suid van die Sahara-woestyn, is steeds dié wêrelddeel wat die meeste deur MIV en VIGS geraak word.
Twee derdes van alle mense wat met MIV leef, woon in Afrika suid van die Sahara, berig Reuters.
Dié gebied het 75% van alle VIGS-verwante sterftes rondom die wêreld in 2007 gehad.
Volgens ‘n Verenigde Nasies-verslag in 2008 was daar 33 miljoen mense wat in 2007 met MIV geleef het. Meeste van dié mense woon in Afrika, het die verslag berig.
‘n Geraamde 1.9 miljoen mense het in 2007 MIV in Afrika suid van die Sahara opgedoen. Dit bring die totale aantal mense in Afrika wat met MIV leef tot by 22 miljoen.
Die nege nasies van Suider-Afrika dra steeds ‘n oneweredige deel van die wêreldwye MIV-positiewe bevolking. ‘n Totaal van 35% van alle MIV-infeksies en 38% van VIGS-verwante sterftes in 2007 het in dié area plaasgevind.
-Reuters