Afrika moet help met rebelle, sê Mali
2012-09-05 12:40
Ouagadougou, Burkina Faso – Dioncounda Traore, Mali se tussentydse president, het Wes-Afrika-lande gevra om sy land te help om die noorde van Mali terug te neem by Islamitiese rebelle, het Franse mediabronne berig.
“President Traore het amptelik ‘n versoek aan die Wes-Afrikaanse Ekonomiese Gemeenskap (Ecowas) gestuur en gevra dat hulle militêre hulp stuur om die land te help stabiliseer asook om die noorde weer terug te wen,” het Jean Felix-Paganon, Frankryk se spesiale verteenwoordiger vir die Sahel-streek, gesê.
“Hierdie is ‘n belangrike ontwikkeling en ons bespreek ook ander moontlike ontwikkelings met Burkina Faso se president, Blaise Compaore,” het Felix-Paganon bygevoeg.
Ecowas het gesê hy is bereid om 3 300 soldate Mali toe te stuur, maar hoop dat ‘n VN-mandaat vir die ontplooiing ontvang sal word.
Die tussentydse regering was tot dusver huiwerig om buitelandse soldate in die land toe te laat, maar die huidige situasie het die president genoop om sy siening te verander.
Politieke onrus heers in Mali sedert pres. Amadou Toumani Toure in Maart deur die weermag uitgewerk is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP