Afrika kan so eie strafhof kry
2011-10-28 08:01
Pretoria – Dit sal voortaan nie nodig wees om Afrika-leiers wat misdade teen die mensdom pleeg, in die internasionale strafhof (ISH) in Den Haag te verhoor nie.
Hulle kan in Afrika verhoor word as die Afrika-hof vir menseregte en die Afrika-hof vir geregtigheid saamsmelt, blyk uit ’n voorlegging wat regter-president Bernard Ngoepe van Gauteng by Unisa gedoen het.
Ngoepe, stigterlid van die Afrika-hof vir menseregte en een van dié hof se 11 regters, het gesê “daar is ’n plan in die pyplyn” om die twee howe te laat saamsmelt.
Dit sal die nuwe hof ’n strafregtelike jurisdiksie gee wat meebring dat Afrika-staatsleiers in Afrika verhoor sal kan word.
“Dít is besig om te ontvou,” het Ngoepe gesê.
Ngoepe, regter Duncan Tambala van Malawi en regter Gerard Niyungeko van Burundi, president van die Afrika-hof vir menseregte, het by Unisa meer van dié hof se werk vertel.
Ngoepe het gesê die Afrika-hof vir menseregte is in Tanzanië gesetel. Hy gaan elke drie maande soontoe vir twee weke.
Die hof se begroting en reëls is sedert 2006 vasgestel en hofpersoneel, soos regsverteenwoordigers, is aangestel.
Op die kortlys van hofpersoneelkandidate was egter geen Suid-Afrikaners nie.
Ngoepe het gesê toe hy daaroor navraag doen het, is aan hom gesê: “As Suid-Afrikaners maar net aansoek gedoen het om hierdie poste.”
Ngoepe het gesê “ons het in Suid-Afrika nie geweet van die bestaan van die hof nie”.
Sedertdien het die hof gegroei en in 2008 “momentum gekry” deur hofsake te aanvaar.
“Ons het sowat 12 sake ontvang wat ons hanteer.”
Die hof se mandaat is om menseregte op die kontinent te beskerm en dit het internasionale jurisdiksie.
Hy het gesê dit is ’n probleem dat net 26 Afrika-state die protokol vir die stigting van die hof bekragtig het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad