AU-pos vir Dlamini-Zuma steeds moontlik
2012-02-11 19:42
Kaapstad – Suider-Afrikaanse ministers van buitelandse sake het Saterdag byeengekom om hul strategie te bespreek na dié groep se kandidaat vir die voorsitterskap van die AU-kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, onlangs nie genoeg stemme kon werf om dié posisie in te neem nie.
Die kommissie is die uitvoerende sekretariaat van die AU.
Dié vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is op kort kennisgewing belê ná Dlamini-Zuma nie daarin kon slaag om haar teenstander, Jean Ping van Gaboen, in 'n geheime stemming om dié posisie uit te stof nie.
Die ministers sal "goeie voorstelle vir staatshoofde maak, wat uiteindelik die voorstelle verder sal neem na ander vergaderings op die vlak van die Afrika-unie," het Angola se minister van buitelandse sake, Rebelo Pinto Chikoti, gesê.
'n Analise van die stemming in Januarie en die strategie vir die volgende stemming was op die agenda vir die vergadering, wat ook deur ministers van Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek bygewoon is.
Dr. Jakkie Cilliers, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het in Januarie by 'n die spitsberaad van die Afrika-Unie (AU) in Addis Abeba, Ethiopië gesê die uitslag van dié stemming is 'n teken dat Suid-Afrika “se mag op die vasteland perke het”.
Daar sal by die AU se volgende leiersberaad in Malawi weer nuwe kandidate vir dié amp oorweeg word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP