9 dood in Somalië-gevegte
2010-01-29 10:42
Mogadisjoe - Ten minste nege mense, waarvan die meeste burgerlikes, is dood in gevegte wat tussen vredesmagte van die Afrika-unie en rebellegroepe in Mogadisjoe uitgebreek het.
Dié aanvalle het planne om die herdenking van pres. Sharif Sheikh se eerste termyn as president van Somalië te vier in die wiele gery.
President Sheikh was ten tye van sy verkiesing beskou as Somalië se enigste hoop op vrede.
Automatiese geweervuur het vroeg Donderdag in die Somaliese hoofstad begin en deur die nag geduur.
Regeringsamptenare het reeds by die presidentswoning in Mogadisjoe vergader om voor te berei vir die vieringe toe dié gevegte uitgebreek het.
- Sapa-AFP