8 gevangenes sterf weens cholera
2009-11-22 11:27
Nairobi – ’n Cholera-uitbreek het tot die dood van agt gevangenes in Kenia se grootste tronk net buite Nairobi gelei en 25 ander is gehospitaliseer, het die kommissaris van tronke Sondag gesê.
“Een is Saterdagaand dood terwyl sewe ander vroeg vanoggend gesterf het. Daar is ’n uitbreek van cholera in die tronk,” het Isaiah Osugo gesê.
Volgens hom is 25 ander gevangenes gehospitaliseer weens die siekte wat deur swak sanitasie en besmette drinkwater by die Kamiti-tronk veroorsaak is.
Cholera ontstaan in water en kan ook deur kos besmet word wat met afval in kontak was.
Dit veroorsaak erge diarree en braking en lei tot ontwatering.
Dit kan dodelik wees as dit nie vinnig genoeg behandel word nie.
- Sapa